• Juan-Ri

Mamma speel ook (iets soos) rugby

Updated: Oct 15, 2019

Wat doen jy heeldag? Darem werk jy nie ook nog nie....

My jinne. Vra en sê jy nog?

Ek het nog nooit self rugby gespeel nie, maar ek het al heelwat gekyk. Ek ervaar die ‘blood, sweat and tears’ daagliks vanaf die dag afskop in my, sogenaamde, eie mamma-rugby game. Ook ervaar ek die onverklaarbare liefde, passie en satisfaksie in die aksie wat daarmee saamgaan, todat die eindfluitjie uiteindelik blaas... wag... blaas daar ooit ‘n eindfluitjie? Onthou, Mamma, wanneer mens jou volle aandag aan een ding gee, skep dit weer gapings op ander terreine en so vinnig soos dít verloor 'n mens beheer oor jou haarfyn beplanning, roetine en konsekwentheid... wat eintlik noodsaaklikhede is, wanneer mens daardie beker huis toe wil bring. Let the games begin!


Vanoggend was ek te moeg om op te staan, nadat my wekker in my ore geloei het. Gisteraand? Mmm... Of dit nou my baba, my peuter, of my man was - wat tans in Japan is, wat ‘eintlik nou simpel was om dié tyd te bel.’ Of ek, wat vir absolute geen rede wakker word in die middel van die nag - dit gebeur gewoonlik wanneer almal die aand rustig slaap. Of... wat van daai eerste keer wat jy na ‘n jaar besluit om 'uit' te gaan soos in die ou dae (maar ook net, totdat die klok 12 uur slaan) en een van jou kids begin, ‘n halfuur na jou terugkeer, boë opbring om die uur. Is dit dan my straf, ref? Flippen rooikaart net daar en dan! Well... whatever it was, maak nou eintlik nie meer saak nie. Hierdie wedstryd móét gespeel word - come hell or high water. Na die 6de keer wat ek die snooze-knoppie druk, is ek weer vies vir myself, omdat ek aan die slaap geraak het na my baba se 5 uur voeding. Nou voel dit asof ek nog nooit ‘n oog toe gemaak het nie. Só skop die dag af. Staan op, Mamma, trek aan en makeup gou-gou, voordat jou kids wakker word. Ek scan gou my foon en kyk vas in die 10 unread messages en 20 unread e-mails. Ek haal diep asem en dink dat vandag D-day is om dit te lees en te reply. Ek staan op en sit my foon naby my neer - nét om die tyd dop te hou. Halfpad deur die tande borsel, word my baba wakker (wat ek nou probeer stil hou, sodat sy nie my peuter wakker maak nie). Ek begin makeup... nou met baba op die heup, probeer ek maar met een hand al swaaiend en sussend regkom net, sodat my peuter oor 5 minute kan skree, omdat sy op my ander heup wil swaai... What’s fair, is fair. I mean... los maar eerder alles waarmee jy besig is, Mamma, en doen wat van jou verwag word - jy is mos nou 'n team player. Dit voel of ek deur twee spelers gelyktydig getackle word! Maar, ek staan vinnig op met die hoop om later weer kans te kry om beter te lyk. ‘Ek is honger Mimi, pappies hê,’ moan my 2 jarige.


Sy besluit self wat sy wil aantrek, en hoe sy dit wil aantrek. Hierdie is ons eerste offisiële skrum vir die dag. Maak gereed, Mamma... crouch, bind, set... UGH! Ek moet soebat en smeek net, sodat sy ordentlik kan lyk. Ag nee...(sug) what’s the use? Sussie - 1, Mamma - 0. My kind, as jy jou panty oor jou kop wil aantrek, then go for it! Ek is lief vir jou net soos jy is! En ook, I choose my battles... Want regtig, party dae is dit bloedneuse, bloukolle en krapmerke met naels wat gister al gesny moes word! Mens sou sweer ons skryf mekaar af... perongeluk natuurlik...want hoe moet 'n baba tog al verstaan dat sy haar splinternuwe tandjies moet gebruik om kossies te kou - nie om mamma se bors te byt nie! Dis mos maar 'n rowwe game...so prrrt, waterbreek, asseblief!



Teen dié tyd het my peuter letterlik al 'n 100 keer vir my gesê sy wil pappies hê. Nou jaag ons af met die trappe na die kombuis, met albei kinders op my heupe. Almal is uiteindelik aangetrek, doek geruil, hare gekam... jy kan ons deur ‘n ring trek! O, wag... het ek ‘n bra aan? Ja! ‘Pappies hê, Mimi, please,’ die stemmetjie raak skoon dik. Ek sit die pap uiteindelik voor haar neer. 'Bibbie, Mimi." O, ja! Ek hol terug om die bib te kry en trek dit spoedig vir haar aan. Ek’t skaars gaan sit en vir baba begin voer, wanneer sy weer huil vir ‘n sappie.... Shhhhhhh, saggies, Liefie.... jy hoef nie te moan, wanneer jy praat nie - jy kan mooi praat sonder om te moan of huil... Want kyk nou, as jy huil dan huil sussie ook. Wéér. Gelyktydig omgetackle... Ag nee, waar is die support? Ek vat hier-en-daar grond, en hap so tussen deur alles aan enige iets wat ek in die hande kry, terwyl ek die gemengde gemors van melk, pap en sap vinnig probeer skoonmaak. Het jy al gesien hoe lyk dit waar 'n peuter klaar geëet het? Of probeer optel en skoonmaak agter almal oor 'n naweek... my peuter help my darem. Maar ek moet bieg - die huis lyk beter in die oggend, voordat ons met die "skoonmaak" en die "opruim" begin... dis nou werklik die definisie van konstant besig wees! Nee wat, na die naweek is ek weer slaggereed vir Maandag om aan ons voordeur te kom klop. Ja, dieselfde voordeur wat sy met haar spoegies en my makeup sponsie gewas het... Ja... sy help my regtig!

Trrr-trrr, lui my foon. Dis Biba (soos wat ons my man noem). Hy wil graag weet hoekom ek hom nog nie laat weet het dat ons wakker is nie en ook wil hy my net weer herinner hoe sleg dit vir hom is om so min met ons te praat. Jammer, Bib. Ons bel jou nou weer, wanneer ons oppad skool toe is. Belowe. Ons tyd hardloop uit! Hoe ons in die oggende teen 7.30 by die huis uit is, is net genade! Altwee kids word in hul karstoeltjies gelaai - huilend of te not. Dis nou so!

Vitamines, check.

Skooltas, check.

Heerlike kosblik, check.

Kinders, check.

Foon, check... Dankie TOG! Gewoonlik soek ek alewig na dié, want wie't dit nou laaste gehad? Ek of my peuter? Tablet... lê nog bo in die kamer. Hol gou op, kry dit, spring in die kar. "Ek isi vasi, Mimi," sê sy verontwaardig met die een handjie in die lug. Haai... jammer, Sus! Spring uit, maak haar vas, spring terug agter die stuur in. Flip, die huis se ligte brand nog. Spring uit, sit gou af, en klim vir 'n laaste keer uiteindelik in die kar. Dis nou, wanneer ek voel dat ek die calls reg uitgeroep het en die lynstaan ‘n groot sukses was. Ons timing is perfect! Beautiful! Die sweet tap my skoon af... Hou ingedagte dat hierdie inspring en uitspring beweging homself moontlik sowat twintig keer kan herhaal voordat ons uiteindelik ry...


Oppad skool toe, bel ons vir Biba. Enige tyd wat ons kan praat oor die foon is uiters kosbaar en so skaars soos hoendertande. Oor verskeie redes natuurlik, maar die tydsone verskille is die grootste een. Mamma, jy moet nou mooi konsentreer! Jy ry in die verkeer en ander motoriste verwag van jou om alles raak te sien en om te dink soos hulle... of vír hulle. “Hou die foon bietjie op asb Mamma, ek kan haar nie sien nie.” Oh, jammer Bib! Ek is net gou agter die wiel, met een hand op die stuur en die ander arm agtertoe gebuig om te poog dat jy jou dogtertjie kan sien, wat nou eweskielik maak asof sy wil slaap... wat snaaks is, omdat sy nooit wil slaap nie... Ook weier sy om die foon nou vas te hou... asof sy dit nie daagliks uit my hand gryp, wanneer ek besig is daarmee nie. Really? Baba skree in die agtergrond, sodat niemand mekaar meer kan hoor nie. Sy is doodmoeg - dit kom van té vroeg wakker word. "Ag shame Mamma, okey, praat later. Lief jou." Baba raak aan die slaap soos wat ek die foon dooddruk. Ons vorder gelukkig. Drie fases!


Deesdae is dit ‘n tranedal by die skool in die oggende. Ons het al beter dae gehad. “Nog een Lenie Blou. Nog een Barbie Girl, please Mimi?” smeek sy voordat ons uitklim. Die 1000 keer wat ons dit ‘n dag luister is irrelevant, wanneer sy planne maak om vir tyd te speel. Eers wanneer ek die personeel in die kantoor groet, sien ek die snooi-streep op my broek presies die hoogte van my peuter se neus. Of die spierwit pap-merke op my pikswart top waar baba haar mondjie teen my afgevee het soos wat ek haar in die loop, vanaf my heup gevoer het. 'n Halfuur later kan ek uiteindelik ry. So met die groet-en-sien-julle-later, roep die een juffrou my eenkant om die price tag van my splinternuwe top af te sny. Hel! Ek't skoon daarvan vergeet. Ek't dit juis uitgehang, sodat ek nog moet onthou om dit af te sny. Prrrt, hoor ek die fluitjie weer. Oppas vir 'n vorentoe pass, Mamma. 


Ek beplan om my eie ding te doen, wanneer ek uiteindelik by die skool ry. Dis nou te sê as ek nie apteek toe moet jaag vir medisyne (omdat ek eers die koorsblaar op haar lip sien wanneer ons reeds by die skool is), of as ek haar jogurt (of enige iets anders) by die huis vergeet het nie. Ek het skaars my kar in reverse gesit om by die skool weg te ry, wanneer my baba besluit sy is nóú rasend honger. Is jy weer wakker, Baba-lyf? Ek borsvoed nog... eksklusief! Gelukkig het sy al begin kossies eet, so soms kan ek vir eers regkom met ‘n linkerhand wat ‘n pappie voer terwyl ek ry. Maar bottel weier sy om te vat. WHAT? Is daai ‘n bollie in jou doek? Waar gaan ek jou doek nou ruil? Verander gou die gameplan, Mamma. You can do this! Is dit al halftyd?



Deur die oggende moet die ‘magic’ gebeur. Dis ‘n tydjie net vir my (wel, vir my en my baba). Of dit nou ‘n Pienkvoet-pret of- swemklas vir my baba is, ‘n koffie saam met ‘n vriendin, troues of partytjies reël (excitinggg- my sussie en twee van my beste vriendinne trou), my gereëlde afsprake by Home Affairs om my baba se travel dokumente te probeer uitsorteer, gou ‘n draai by die haarsalon maak, omdat dry-shampoo nie meer werk nie (ek hoor sommer al hoe sê my sussie wat my hare doen, “jy jaag my net nie weer aan vandag nie”), of die ure (wat ek nie het nie) wat ek insit om ‘n nuwe besigheid van die grond af te probeer kry. Flip, al die affêres is eintlik só ver uitmekaar dat dit voel asof ek die heeltyd op en af agter taktiese skoppe aan hardloop.  Ook sal ek tyd vir inkopies moet inwerk, want regtig, my yskas is dolleeg - I’m pushing it! In Suid-Afrika verwag meeste grocery winkels van mens om (ek weet nie eers hoeveel ure) by die huis te wees om te wag vir 'n aflewering, wanneer mens online bestel nie. So, prrrt, dis uit! Dan, huistoe om gister se klere te gaan was (ek’t uiteindelik ’n wasmasjien gekry), pak, vloere te vee en ordentlik te was (nadat daar 'n glipsie op die vloer of in die bed was, omdat ons besig is om te potty train), en dan vinnig die skottelgoedwasser uit en weer in te pak. Ek’t nou mos nét vir baba by my, so dit behoort geen probleem te wees nie. Ek sit haar doodeenvoudig in die jumper of sling, en doen my ding. Well done, Mamma! Ek druk een drie na die ander!... Of so dink ek, todat sy my  onverdeelde aandag vereis vir ‘n geselsie en 'n speel. Ek kla nie. Dis só lekker! Huiswerk moet nou maar wag. Ek is dankbaar, wanneer sy vra vir ‘n voeding. Dis ‘n wel verdiende en broodnodige 10 minute se ruskans. Sy slaap uiteindelik. Trrr-trrr...my foon lui weer. Dié keer kan dit enige iemand wees wat bel, van Biba tot die ou van die Wi-Fi (wat ek, by the way, nog nie uitgesort het nie). Ek moet op 'n sekere plekkie in die huis staan, omdat die opvangs maar skaars is. Intussen word niks anders gedoen, totdat ek klaar gepraat het nie. O, DIE huis - nie MY huis nie... Hier soek ek alewig na alles, omdat ander mense ons bokse met trek-goed vir ons uitgepak het. Ons is nooit vreeslik lank in een plek nie. Niks het ‘n plekkie nie en ek weet waar niks is, of waar om enige iets te bêre nie. Dit voel of ek permanent besig is om te skrop en te poog om te organiseer... en dan weer te trek of te toer.  Dis presies soos om 4, 5, 6 harde fases te vorder net, sodat die bal afgeneem kan word en die oposisie weer al die pad terug skop. Al daai harde werk... verniet! Ag nee, wat 'n getjommel. Baba word wakker. Ek voer haar gou, terwyl ek iets vir my gryp om te eet.

Vrek! Daar is net 30 minute oor, voordat ek my peuter by die skool moet oplaai.


Ek spring eers gou vinnig by die winkel in om daai long-overdue inkopies in te werk. Jaag in - jaag uit. Mooi! Ek boer nou verseker op die doellyn! By die uitgang wil die hek nie oopmaak nie. Hoekom op aarde wil hierdie masjien nou nie vir my ‘n kaartjie gee nie? Regtiggg??? My oë rol amper uit hul kaste. Ek druk die knoppie 10 keer na mekaar en met mening, net om te besef dat ek eintlik die kaartjie wat in my linkerhand is, in die masjien moet sit. Embarrassed kyk ek agtertoe om te kyk of iemand my dalk gesien het. 'Boom' gaan dadelik oop - en ek is spoedig daar uit! Ja-nee Mamma, maak net volgende keer seker jy boer op die regte doellyn...


Wanneer ek my peuter by die skool gaan haal om 14.30, sou mens sweer sy het nie net vanoggend in een gestort, omdat sy nie daar wil wees nie. Nou wil sy net nog bietjie speel en rondhardloop. Ag nee, ref! Maak oop jou oë. Ja, blaas die fluitjie! Jinne, jy is eensydig! 'n Hele uur later kom ons eers by die skool weg. Wanneer ek uiteindelik weer albei kids in die kar het, begin sy: “Roomys, Mimi.” Hoe vra jy, Sus? “Pleazzzze... ROOMYS, ROOMYS, ROOMYS” maal soos ‘n duisend keer. Sy herinner my konstant vir die volle 800m vanaf haar skool tot by die naaste Mc D’s - seker maar omdat sy bang is ek vergeet daarvan. Ja, my kind. Amen, my kind. I got it! Geduld is die wagwoord. Geduld... Ek verstaan dis nog 'n moeilike konsep vir jou... vinnig raak dit vir my ook 'n moeilike konsep. Maar, I guess dis iets wat ingeoefen moet word, soos enige iets waarin jy wil excell. En kyk, my kind maak seker sy oefen dit die heeldag vir my in! Hey! Speel ons nou nog in dieselfde span, sus? Of teen mekaar? Ons al drie gee 'n sug van verligting, wanneer daai roomys uiteindelik aangepass word. 


Nou is ons oppad huis toe, sodat almal kan eet en bad voordat ons enige buitemuurse aktiwiteite aanpak. Wel. Een. Ons het net een buitemuurse aktiwiteit oor, en dit is swem. Ons is weggejaag by die gimnastiek, omdat my kids verby my hol asof ek geen defence line het nie. My peuter is lankal nie meer saam met haar klassie nie. Dié spring en hardloop op al wat 'n trampoline is in 'n saal vol gimnaste. En my baba, weier om bottel te vat, sy skree vir 'n boob. HOE manage jy daar, momager? Ek het summier besluit om die wedstryd af te stel en eerder net die punte te vat, want hierdie Typhoon is just not worth facing... Toe was daar ook die perdry. Dieselfde storie, more or less.

Terug by die swem. Ouma gaan gelukkig altyd saam swem toe - wat 'n groot hulp is daai ekstra paar handjies nie! Totdat sy die dag nie saam gegaan het nie. Ek’t n fancy nuwe wyepyp broek aan. Trots, dat ek ten minste na iets lyk die aand. Die wagarea sit tjok-en-blok vol ouers soos ‘n pawiljoen vol toeskouers. Vol selfvertroue (omdat ek nou mooi voel oor die fancy broek), skuif ek - met die karstoel, baba en ons sak - by die heel voorste ry in. Onthou Mamma, dit gaan rof in die voorry tussen die pak voorspelers... Ek het skaars gaan sit toe ek baba se skerp tandedoek ruik. Ek sal dadelik moet ruil! Ek spring weer op. Met die, haak my skoen in die onnodige wye pyp vas. Soos die dong van 'n Japanese halftyd sirene, val ek teen die skuifdeur vas. VOOR ALMAL! Die skare lewer dadelik kommentaar - dit gons... Ek is embarrassed maar hou my kop omhoog - dit was, voordat ek besef dat ek nie een van die 10 pakke wet wipes wat in my kar lê by my het nie... Okey, nee wag. Bestaan daar nie iets soos beseringstyd nie? Nou moet ek nog wipes bedel... Asb, dra my net van hierdie veld af! Medic! Bring sommer 'n nekstut ook.



Wanneer ons vir Ouma moet aflaai na swem, is dit soos vuiste in 'n losgemaal. Ek weet dat ek nou my alles moet gee, voordat daardie eindfluitjie blaas. My peuter skree - non-stop - totdat ons by die huis stop. Dan trek sy eers in 'n oktaaf hoër weg, todat sy uiteindelik ophou. Ek't die een in die sling en die ander een op die rug, wanneer ek gou die asblik uitvat wat hulle môre kom haal. Ek't nou net daarvan onthou. Almal is moeg. Ons lees 'n Bybelstorie, voordat ek hulle in die bed sit. My peuter slaap nie sommer nie. Sy fight dit! En boonop vereis sy dat ek by haar moet lê, totdat sy slaap - dis nou hier waar my peuter my aan die slaap maak eerder as ek vir haar. En wanneer my peuter skree, huil my baba. Wanneer ek my baba optel, is dit een groot gemors. Choose your battles, Mamma...daar bestaan nie iets soos game fixing nie! Maak 'n call en hoop vir die beste. Teen dié tyd wil my kop bars. Ek't wéér ablei op die heupe. Die tyd wat ons bed toe gaan en die tyd wat ons gaan slaap is twee heel verskillende goed! Dis nou hier waar my fiksheid, werksverrigting en uithouvermoë werklik getoets word. Na wat voel soos 'n ewigheid, en beide slaap uiteindelik, kan ek gou in 'n lekker warm bad spring (as ek nie vroeër kans gekry het nie), of uiteindelik iets vir myself doen. Iets vir myself... mmm... om te gaan slaap klink eintlik nou die lekkerste. Ek staar na die 23 unread messages en 50 unread emails... en besluit om te begin reply. Ek poog om my sosialelewe nog te handhaaf, maar ek kom die naastenby deur alles nie. My oë wil toeval. Intussen bid ek dat ons vanaand 'n rustige nagrus sal hê, want iewers sal ek moet recover.


Teen dié tyd hoop ek jy wonder nou eerder hóé ek alles gedoen kry. En dalk is jy weer opnuut dankbaar dat jy wel 'n werk het. O, maar die onvoorwaardelike liefde, passie en satisfaksie is onverklaarbaar en onvermydelik! My lyf is doodmoeg, maar my hart blom en my beker loop oor. Ek hoor niks... maar dink die eindfluitjie behoort nou enige tyd te blaas.  Net wanneer ek my kop uiteindelik saggies op my kussing neerlê, lui my foon... Dis Biba - ... En dis toe ek onthou.... ek wou nog klaar makeup...



Foto's deur: Simply Capture Photo's

1,509 views2 comments