• Juan-Ri

4 Lewenslesse: Skoenlapper Metamorfose


Dis verseker nie moeilik om te sien dat my kind dalk bietjie kante kies wanneer sy met my ouers gesels nie: “Oupa, jy’s ‘n papie” en “jy’s die mooiste butterfly, Ouma.” Kyk, dit maak baie meer sin as jy weet dat Oupa ‘n terg-gees is wat weet hoe om jou siel behoorlik uit te trek; en Ouma, ag, sy is die sagtheid vanself, en moet gedurig sorg dat Oupa sy welverdiende piets kry. Dis so interresant om die wêreld vanuit ‘n kind se perspektief te bekyk. Die onskuld is vir my opvallend. ‘n Jong hart wat in reine eerlikheid vir my moeilike lewenslesse leer en Goddelike wysheid by my kweek. Hier is 4 belangrike punte wat God vir my deur die skoenlapper gewys het:



God praat

Mens weet dat God besig is om met jou te praat wanneer Hy jou gedurig bewus maak van dieselfde boodskap en beelde. Vra Hom, en Hy sal jou antwoord. Soek Hom en jy sal Hom vind - Mat 7:7-8. So het dit gebeur dat die skoenlapper en sy simboliek aan my voordeur kom klop het (lees meer hieroor in my vorige blog, Skoenlapper Metamorfose). Ek glo dat God die

skrywer van filosofie is, en die beginpunt waarby alle wetenskaplike teorieë ontstaan het. Ons moet versigtig wees om God in ‘n boksie te druk. Maak jou hart oop en sorg dat Hy die middelpunt bly van dit wat jy glo en ervaar. Onthou, dis jóú reis - jóú lewenspad.


Fases van reis

Natuurlik is die eier, wurmpie en papie-fases net soveel deel van die skoenlapper soos wat die skoenlapper in sy volmaaktheid, self is. Soos God dit wil is die skoenlapper ook my spirit animal. Die skoenlapper simboliseer persoonlike transformasie, om sensitief te wees teenoor jou eie reis en om die tyd of pas te respekteer waarmee jy groei en verander. Maar net soos ‘n kindjie vergeet ek dit ook soms. Wanneer dinge buite my beheer plaasvind, is dit asof ek ‘n punt daarvan moet maak om myself te herinner dat God in beheer is. Dis menslik om fokus te verloor in realiteit. 


Fokus

Om ‘n skoenlapper as metafoor van die verskillende fases van die lewe te beskou, is figuurlik en loop hand aan hand met jou geestelike reis. Dis een ding om jouself met God en met positiwiteit te vul, en ‘n uitdaging om dit uit te leef en werklik te glo veral wanneer jy jouself in die kern van moelike omstandighede bevind. Buiten dit alles glo ek vas dat Goddelike-wysheid juis as ‘n onbekostigbare geskenk aan ons toevertrou word gedurende die moeilikste van tye. Want dis wanneer die storms om ons woed wat ons om God uitroep - Luk 8:24.


Wysheid

“Met die grysheid kom die wysheid.” Hoe ouer ek word hoe beter begin ek verstaan. Wanneer ek terugkyk op my lewe is daar verseker ‘n paar situasies wat ek nou heeltemal anders sou benader en hanteer. Maar, een ding wat ek wel geleer het is dat volwassenheid nie aan ouderdom gekoppel kan word nie. Wanneer die Bybel praat van “jongelinge” verwys dit verseker nie net na ouderdom nie, maar eerder na geestelike volwassenheid. 


Dit opsigself is ‘n reis op sy eie.  Ek is nederig dankbaar vir Goddelike-wysheid maar ek leer ook om my eie reis te respekteer en waar ek myself tans bevind. Mag ek lag oor die menslike aspekte van die lewe, mag ek altyd bly leer, bly groei en transformeer. Want in hierdie lewe sal niemand ooit vlekkeloos kan wees nie, behalwe soos skoon gewas deur die bloed van Jesus Christus.






0 views